Die amptelike opening van die visuele kunsuitstallings het Maandag 6 Oktober afgeskop met ‘n kunssafari-avontuur vanaf die botaniese tuine tot by die NWU-Kunsgallery. Gaste moes ‘n sprokiesagtige wandelpad deur die tuine volg met beeldhouwerk van deelnemende kunstenaars strategies geplaas tussen die inheemse plante en struike.
Die wandelpad het gelei na die tuingallery waar gaste onthaal is en die werk van kunstenaars soos Angus Taylor, Elbie Erasmus, Alex von Klitzing, Steven Delport en Martyn Schickerling uitgestal was. Daarna is almal na die Sanlam Ouditorium waar illustrasies uit die boek, The Birds of Southern Africa – die oorpronklike versameling van 52 illustrasies deur Norman Lighton – uitgestal is. Hierdie uitstalling, wat moontlik gemaak is deur FirstRand, is vir die eerste keer in meer as 25 jaar te sien.
Na die toer deur die Alumni-saal, waar kunstenaars soos Johan Myburg, Hubert Barichievy, Juria le Roux, Brahm van Zyl, Evette Weyers en Marinda du Toit se werk te sien was, is die gaste begelei na die uitstalling van feeskunstenaar Gerhard Marx in die NWU-gallery, wat ook die finale bestemming was vir die kunssafari.
Die tuin tema is voltooi met Marx se uitstalling, getiteld The Garden at Night, wat die fokus uitbeeld op die perke van die oog en die ruimtelike oriëntasie van die liggaam. Deur lugfoto’s, mediese beeldmateriaal en plantmateriaal te verweef, werk Marx letterlik dié abstraksies in sy wêreld in, en teken hy die wêreld met sy wêreld. Sy werk is arbeidsintensiewe rekonstruksies van fragmente wat intieme ontsaglikhede kontrueer.
Begeleide kunstoere word daagliks deur Theo Kleynhans om 09:30 by die Sanlam Ouditorium aangebied. Kaartjies kos R85 en die toer is 90 minute lank.
The post Kunssafari – Kunstenaar van die nag appeared first on Die Nuus in Afrikaans – Koerant.co.za.
Comments